MEDIAKENNISGEWING 14/08/2019

AfriForum pak BLF in hof oor haatspraak

Die burgerregte-organisasie AfriForum verskyn op 21 en 22 Augustus 2019 in die gelykheidshof in Johannesburg in die haatspraaksaak teen Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF).

AfriForum het in Desember 2018 klagtes teen Mngxitama ingedien nadat hy tydens ’n toespraak in Potchefstroom die moord op wit mense aangehits het.

“We’ll kill their children. We’ll kill their women. We’ll kill anything that we find on our way… We’ll kill their dogs. We’ll kill their cats. We’ll kill anything that comes before us,” het Mngxitama onder meer gesê. Hy het aangevoer dat sy organisasie vyf wit mense sal vermoor elke keer wanneer ’n swart persoon in Suid-Afrika vermoor word. Mngxitama het verder aangevoer dat sy organisasie besig is om 50 000 soldate vir hierdie doel te mobiliseer.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, gaan tydens dié hofsaak as ’n deskundige getuie getuig. Mngxitama sal sy eie verdediging behartig.

Media wat die hofsaak wil bywoon word aangemoedig om aansoek te doen om die verrigtinge regstreeks uit te saai.

Die besonderhede van die hofsaak is soos volg:

Datum:  21 en 22 Augustus 2019

Tyd:       09:00

Plek:      Johannesburg-Sentraal se landdroshof, Foxstraat 26, Johannesburg