DRAKENSBERGER

OORSPRONG EN GESKIEDENIS

Die oorsprong van die Drakensberger kan teruggevoer word tot die inheemse beeste van die Khoi en ander inheemse bevolkingsgroepe van die Kaap en omliggende gebiede. Vasco da Gama het reeds op 2 Desember 1497 melding gemaak in sy dagboek van die “vet, swart os” wat hy geruil het by die inheemse bevolking. Eers na die koms van Jan van Riebeeck in 1652, spesifiek gedurende die bewind van goewerneur Willem Adriaan van der Stel rondom 1700, het beesboerdery ernstig begin posvat. Die invloed van die plaaslike bevolking se beeste verdien ook om vermeld te word. Na die slag van Vegkop in 1837 onder leiding van Sarel Celliers het die Voortrekkers byna al hulle vee verloor. Trekosse is deur naburige trekkers van Thaba Nchu aan hulle voorsien, maar die meeste diere is egter deur ruilhandel van koning Mosjesj van die Basotho’s (huidige Lesotho) bekom. Tydens die slag van Umfolozi op 26 Desember 1838 het die Trekkers die meeste van hulle beeste, tesame met ’n aantal van die plaaslike Nguni’s, herwin. Die invloed van die plaaslike swart bevoking se vee kan dus nooit uitgesluit word uit die geskiedenis nie.

Die Drakensberger-beesras het amptelik op 7 November 1947 ontstaan.

Dié Swartbeeste het mettertyd bekend geraak as Vaderlanders. Daar bestaan dokumentêre bewyse dat die Voortrekkers teen 1837 die Kaapse grensgebiede met spanne Vaderlanders voor hul waens verlaat het. ’n Spesifieke trekker, Jacobus Johannes Uys en sy seun Dirk Cornelius Uys (bekend as Swart Dirk), wat Grahamstad in 1838 verlaat het om na die huidige KwaZulu-Natal te gaan, sou later ’n besonderse rol in die ontwikkeling van die Drakensbergers speel. Met metodiese inteling en streng seleksie binne ’n geslote kudde, het Swart Dirk Uys, wat hom in die omgewing van Wakkerstroom en Utrecht gevestig het, besonderse diere geteel. Swart Dirk (1814-1910) se teelprogram is deur sy seun, Coenrad, en skoonseun, MJ (Joey) Uys, voortgesit. Die resultaat daarvan was ’n besliste rastipe. Dié diere het later as die Uys-bees bekend gestaan. Voorbeelde van Trekkers wat tydens die Groot Trek uitsluitlik swart spanne osse gebruik het, was die Breytenbachs, Du Pisanies, Du Plessis’s, Maritze, Smutse, Potgieters, Spiese, Van Rooyens, Engelbrechts, Jordaans, Kemps, Kloppers, Kochs en Prinsloos.

Tot en met die ontdekking van goud aan die Witwatersrand is die beeste grootliks met die oog op gebruik as trekdiere geteel. Die produk was diere met sterk en groot voorkwarte, terwyl die agterkwarte oorwegend lig en klein was. Soos daar bevolkingsgroei, tegnologiese vordering en meganisasie plaasgevind het, het die klem na vleisproduksie verskuif.

Verskeie moeilike tydperke het egter vir die plaaslike veebedryf en die ontwikkelende Drakensberger-beesras voorgelê. Die belangrikste hiervan was:

Die uitbreek van Runderpes in 1896 toe nagenoeg 746,500 beeste gevrek het.
Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) toe ongeveer 600,000 beeste van kant gemaak is.
Die Wet op Veeverbetering van 1934 toe die Uys-bees (Vaderlanders) nie as ’n ras erken is nie (’n staatsubsidie is destyds vir die gebruik van bulle van erkende beesrasse betaal).